‘Vlieënde’ bakkie se roem-uurglas op afdak loop leeg

0
Selfs die publiek kon nie hulle oë glo nie en moes foto's as bewys neem.

BURGERSHOOP — Die Potgieters het gister skaars ’n oog toegemaak nadat ’n bakkie met sy skreeuende bande hier reg bo-op hul motorafdak geland het.

(SIEN VIDEOS ONDERAAN BERIG)

Dit was net na 02:00 toe Coenie (48) en Engela (47) uit ’n lekker diep slaap wakker geskrik het na hul die harde slag buite gehoor het, toe nog salig onbewus van wat hulle buite gaan aantref.

Coenie het aan DigitNews gesê hy kon sy oë nie glo nie. Maar dit was nie net hy wat so gedink het nie – talle nuuskieriges wat later die oggend daar verby sou loop of ry het ook nie hierdie seldsame gebeurtenis misgekyk nie en het nie twee keer gedink om vir foto geleenthede te stop nie.

Die bakkie soos dit op die motorafdak van die Potgieters van Burgershoop beland het.
Die bakkie soos dit op die motorafdak van die Potgieters van Burgershoop beland het.

“Ek het uit die bed geklim en is na buite. Met my aankoms buite was die polisie reeds oor die muur en moes ek net vinnig dink en die honde gryp,” verduidelik hy.

Die 23-jarige bestuurder van die bakkie, wat nie ernstig beseer is nie, het self uit die voertuig geklim en het van die toneel probeer ontsnap. Inligting is ontvang dat dié bestuurder, wat glo die bakkie in Krugersdorp-Noord gebuit het, ’n rooi verkeerslig verontagsaam het.

Sersant Tshepiso Mashale, ’n polisiewoordvoerder het gesê polisie het die bestuurder agterna gesit waarna die bestuurder die versneller van die voertuig al meer plat gedruk het en ’n Stop-teken verontagsaam het.

Die bestuurder het beheer oor die voertuig verloor en as gevolg van die spoed en ’n tuinhobbel wat in sy pad was, is die bakkie deur die lug en het reg-bo op die motorafdak beland.

“Baie mense vra nuuskierig wie die motorafdak gebou het, want hulle is geskok om te sien hoe sterk dit is.”

Dan stoot Coenie sy bors trots uit en lag voorts: “ek het dit gebou!”

Engela Potgieter (47) is vroegoggend deur die geluid van dié bakkie in die agtergrond wakker geskrik. Hier is sy saam met haar kleinkinders Chanté (14) en Jayden (9).
Engela Potgieter (47) is vroegoggend deur die geluid van dié bakkie in die agtergrond wakker geskrik. Hier is sy saam met haar kleinkinders Chanté (14) en Jayden (9).

Sy vrou Engela het gesê vandat die ongeluk gebeur het, het hul nog nie weer ’n oog toe gemaak nie.

“Maar vanaand (gister) gaan ek lekker slaap, want ek kan nie blameer word as die bakkie deur die nag vir sy parte gestroop word nie,” aldus Coenie.

Die egpaar se seun, Hendrik, het vanmiddag aan DigitNews gesê die eienaar van die bakkie is intussen opgespoor en die voertuig sal dus dan verwyder word.

’n Man wat in die buitekamer op die bure se erf woon het kopbeserings opgedoen toe ’n deel van die bakkie se neus dié gebou beskadig het.

Coenie het gesê die skade aan sy eiendom beloop sowat R25 000.

“Gelukkig is ons motor, wat gister (eergister) klaarbetaal is, nie in die proses beskadig nie.”

Engela het gesê daar is gereeld voertuie wat deur hul muur bars en hoop dat die munisipaliteit hindernisse voor hul erf sal plaas.

Die bestuurder van die bakkie sal binnekort in die hof verskyn op aanklagte van roekelose en nalatige bestuur van ’n voertuig.

Comments

comments