Tien klagtes teen twee beskuldiges vir Krugersdorp-moorde

0
7398

[dropcap color=”red” font=”arial” fontsize=”50″]T[/dropcap]ien kriminele klagtes is gister in die Krugersdorp Streekshof teen twee beskuldiges vir die drie moorde wat Krugersdorp verlede maand geruk het, aanhangig gemaak.

Christiaan Johannes Kruger (29) en Fabian Luff (32) het voor ‘n volgepakte hof verskyn op die moord van Anthony Scolefield (10 Mei), Kevin Mc Alpine (26 Mei) en Hanle Lategan (30 Mei).

Die volgende aanklagte is elk teen Kruger en Luff gemaak: 3 klagtes van moord, 3 klagtes van roof met verswarende omstandighede, 2 klagtes van diefstal, 1 klagte van poging tot diefstal en 1 klagte van ontvoering.

Die families van Scolefield en Lategan, sowel as vriende van Mc Alpine, wat die hofverrigtinge bygewoon het, was ontevrede oor die beslissing wat Keith Paige, die landdros in oorleg met die prokureurs wat die saak hanteer, gemaak is dat geen foto’s of opnames van die beskuldiges bekend gemaak mag word nie.

index2

Alec Fourie, die regsverteenwoordiger vir Luff, het gesê dit sal onregverdig wees as sy kliënt se foto gepubliseer word omdat hy nog nie seker is hoe sy kliënt tot die misdade verbind kan word nie.

“Twee verdagtes was my kliënte, maar toe ek afgaan is daar sommer iemand anders en ek weet nie waar hy vandaan kom nie.”

Hy het gesê die rede vir die ophoud gister was omdat daar eers ‘n uitkenningsparade met nog ander gehou is.

“Die verdagtes verander die heeltyd. Dan is vyf in hegtenis geneem vir ondervraging en dan is daar drie. So ver is ek self nie seker wie verhoor gaan word nie.”

Fourie het gesê Luff het nie een uitkenningsparade bygewoon nie.


Da Silva, wat vir Kruger verteenwoordig het gesê hy sal graag wil sien dat sy kliënt ‘n regverdige verhoor sal aanhoor en dat die teenwoordigheid van die media dit sal bemoeilik.

“Die media publiseer wat hulle wil omdat hulle op jag is na sensasie met misleidende artikels in ‘n poging om koerante te verkoop. Ons wil eers weet waarheen die saak gaan voordat foto’s en opnames van my kliënt geneem mag word.”

Hy het verwys na die saak van die ‘Sondag-verkragter’, Johannes Steyn, wat Louise de Waal ses-jaar gelede vermoor het.

“Sy gesig was reeds gepubliseer nog voordat hy skuldig bevind is.”

Fourie het egter gesê die name van die beskuldiges is reeds in die gemeenskap bekend en kan ook op die klagstaat besigtig word wat by die hof vir die publiek beskikbaar is.

Paige het die aansoek aanvaar en gesê dat die name dus bekend gemaak kan word, maar dat geen foto’s of opnames gepubliseer mag word nie omdat die saak nog baie sensitief is. Dié reël mag later verander.

Ferde de Witt, ouer broer van Lategan, het gesê dit was nie lekker om die beskuldiges te sien nie.

“Hierdie is nie net nog ‘n moord nie.”

Hy het gesê die familie doen goed onder omstandighede. Haar begrafnis vind vanoggend plaas.

“Na dit sal die lewe moet aangaan. Daar is nog werk wat voorlê in Suid-Afrika.”

Die saak is uitgestel tot 14 Junie wanneer beide Luff en Kruger vir formele borg kan aansoek doen.

 

 

Comments

comments