Robert Broomrylaan slagoffer se naam bekend

0
4237
Adjudant-Offisier Reinhard Holder is gistermiddag oorlede. Foto: Lourens Hattingh/Krugersdorp SAPD.

KRUGERSDORP-NOORD — Die lewe van Adjudant-Offisier Reinhardt Holder, ‘n polisiespeurder van die Krugersdorp-speurtak, is gisteraand voor 18:00 kortgeknip toe hy teenaan ‘n boom op die eiland van Robert Broomrylaan en Koedoestraat hier verongeluk het.

Volgens Sersant Tshepiso Mashele, ‘n polisiewoordvoerder, het Holder in sy eie voertuig bestuur toe die ongeluk plaasgevind het.

Sy het gesê ‘n nadoodse ondersoek word gelas om te bepaal wat tot dié ongeluk bygedra het.

Generaal-Majoor Anna Mateisi, Stasiebevelvoerder van die Wes-Randse Polisie was self op die ongelukstoneel voordat sy haar medelye aan sy vrou, dogter en ander lede van die familie oorgedra het.

Sowat drie kilometer van die toneel het Mogale City Plaaslike Munisipaliteit se Uitvoerende Burgemeester, Michael Holenstein, ‘n geïntegreerde ontwikkelingsbeplanning vir die plaaslike regering by die Krugersdorp Stadsaal behartig.

Hier is die kwessie van Robert Broomrylaan weer aangespreek en wou ‘n vurige inwoner van Krugersdorp weet wat omtrent die situasie gedoen gaan word, want volgens haar is daar net heeltyd ‘n rondslingery in die plaaslike koerant, maar geen daadwerklike oplossings word gevind nie.

‘n Saak van strafbare manslag word deur die polisie ondersoek.

“Hy was ‘n toegewyde ondersoekbeampte wat aanhoudende suskesin die afsluiting en finalisering van onder meer gevalle van huisroof en ander ernstige sake gehad het. Mag sy siel in vrede rus,” het Mateisi gesê.

DigitNews het verlede jaar in Desember berig dat een só ‘n saak aan Holder slapelose nagte veroorsaak het, maar sy deursettingsvermoë om die moordenaar van ‘n 83-jarige bejaarde vrou van Monument op te spoor het vrugte afgewerp. Haar skedel is meer as vyf jaar gelede met ‘n tuinskêr vergruis.

Lees dié hartseer suksesverhaal hier: Man wat Krugersdorpse vrou (83) met tuinskêr vermoor tot 50-jaar gevonnis

Comments

comments