[VIDEO + FOTO’S]: ’n Nuwe era in Monnas se hokkiegeskiedenis ingewy

Dit is die begin van 'n nuwe era in die skool se hokkiegeskiedenis.

0
387
Van die spelers wat Hoërskool Monument se astrobaan op die spel beproef het. Foto: Jacobus Myburgh.

’n Droom van bykans ses jaar het die afgelope Saterdag ’n werklikheid geword toe 40 hokkiespanne van heinde en ver met Hoërskool Monument (Monnas) se jongste toevoeging tot dié skool se sportgeriewe kennis gemaak het.

Dié hokkie-astrobaan, wat nagenoeg R9-miljoen gekos het om te bou, is die enigste astrobaan aan die Wes-Rand wat nasionaal sowel as internasionale hokkiewedstryde kan aanbied het Liese-Marie Botha, Monnas hokkie-organiseerder, aan DigitNews gesê.

Sy het verduidelik dat die astrobaan se kop en stert in ’n noordelike en suidelike rigting lê wat beteken dat die doelwagters se visie nie belemmer word wanneer die son aan die ooste opkom en aan die weste sak nie.

“Ons is baie in ons skik hiermee, want dit plaas ons in ’n baie spesiale liga waar ons nie net die kans gegun word om teen meer skole te kan kompeteer nie, maar dit stel Monnas ook in staat om hokkie as ‘n sport onder die jeug te ontwikkel. Hierdie hokkie-astrobaan gaan beskikbaar gemaak word aan die Wes-Rand gemeenskap.”

Sy het gesê dat hierdie vir haar ’n baie emosionele dag is omdat daar nou na soveel harde werk, beplanning en opofferings die vrugte daarvan nou gepluk gaan word.

img_7184-medium
Geel en blou ballonne het die amptelike opening van Hoërskool Monument se astrobaan ingewy. Foto: Jacobus Myburgh.

Johann Calitz, Monnas-skoolhoof het nadat talle geel en blou ballonne die blou hemelruim ingestuur is, gesê die astrobaan sou nie sonder die hulp en toewyding van die ouers, personeel en ander rolspelers moontlik gewees het nie.

“Daar is nie baie skole wat die voorreg het om só baan aan hul leerlinge te kan bied nie,” het hy trots gesê.

Calitz het tydens ’n onderhoud aan DigitNews gesê al het bouwerk eers vanjaar aan die astrobaan begin is werk soos om die terrein reg te kry eers sowat twee jaar gelede begin.

Hoërskool Monument se nuwe trots. Foto: Marilize Wheeler.
Hoërskool Monument se nuwe trots. Foto: Marilize Wheeler.

“Ons moes eers kyk waar die beste plek sou wees om dié astrobaan te bou. Die ander kwessie was natuurlik ook die kostes, want om so ’n astrobaan te laat bou is ’n duur storie.”

Hy het verduidelik die wisselkoers tussen die Suid-Afrikaanse Rand en die Amerikaanse geldeenheid, die Dollar, moes eers op ’n bekostigbare vlak gewees het omdat van die materiaal wat vir die astrobaan aangekoop is, van die buiteland ingevoer moes word.

“Dit was al jare lank Monnas se droom om ons eie astrobaan te besit. Vir jare lank het ons hokkiespelers talle opofferings gemaak om steeds met die beste skole te kon kompeteer waarvan ons al verskeie toernooie gewen het.”

Calitz het gesê dié astrobaan gaan ook as ’n slypskool dien waar spelers ook as afrigters en skeidsregters opgelei sal word om op hierdie manier weer vir hulle ander deure in die sport beskikbaar te stel.

Christo Swart, Monnas beeheerliggaam-voorsitter, het met ’nn glimlag op sy gesig gesê dit is die begin van ’n nuwe era in die skool se hokkiegeskiedenis.

“Hierdie is ’n baie spesiale geleentheid en ek wil graag almal bedank wat ’n impak het. Net soos akademie belangrik is, glo ek dat ander sportsoorte buiten rugby en netbal ook belangrik is.”

Altesaam 69 wedstryde is aan die einde van die dag op die astrobaan gespeel waar temperature die kwik tot 34 °C laat styg het.

Comments

comments