‘n Nag in die bibberende koue om in haweloses se skoene te wees

0

Brrrr… Maar dit is koud!

Toegerus met ‘n kombers (of twee) en ‘n kussing het die DigitNews-span, bestaande uit sport-joernalis Wikus Visagie en redakteur Jacobus Myburgh die uitdaging aanvaar om vir ‘n nag buite in die bibberende koue te slaap.

Die Tower of Life, ‘n nie-winsgewende en nie-regerings organisasie het onlangs hul tweede hawelose imbizo in samewerking met die Roodepoort-sakekamer (Rocci) aangebied waar mens eerstehands kon ervaar hoe dit is om in die skoene van ‘n hawelose te staan wat nie die voorreg het om aldag in ‘n warm bed te kan slaap nie.

IMG_5020 (Medium)By die Tower of Life, op die hoek van Kerk- en Rissikstraat in die Krugersdorp-sakekern, word hawelose mense hul menswees teruggegee, want hier kry hulle nie net ‘n warm bed om snags in te slaap nie, maar ontvang ook ‘n warm bord kos en ‘n warm stort.

Die nadraai is egter dat dit R20 per aand kos en net sowat 75 mense kan snags geakkomodeer word, verduidelik Anthony Weilbach, hoofuitvoerende-beampte van die organisasie.

“Indien ons meer mense sou inneem sou dit problematies wees aangesien dit dan oorvol sal wees.”

Die R20 wat haweloses snags moet betaal is om die sisteem aan die lewe te hou aangesien personneellede, en water- en elektrisiteitsrekeninge, onder andere, betaal moet word.

IMG_5034 (Medium)“Met die huidige ekonomiese klimaat is dit moeilik om genoegsame fondse op ons eie in te samel en omdat ons nie die gemeenskap vir geld wil smeek nie, moes ons aan ‘n volhoubare idee dink om die projek aan die lewe te hou,” het Weilbach gesê.

Hy het voorts gewaarsku dat indien die gemeenskap wel nie betrokke sou raak nie, daar ‘n oorvloed van hawelose mense teen volgende winter kan wees.

Vir meer inligting kontak Weilbach op 011 660 4610 of by 060 992 8719. Donasies kan wel ook aan die organisasie gemaak word.

Comments

comments