[KYK]: ’n Kaleidoskoop van kleur en musiek by kindervertoning

0
56

KRUGERSDORP-NOORD — Dit was soos ’n skyfievertoning wat die verandering in die jare van ouds se kleur, kleredrag en musiek voor jou oë laat afspeel het.

(SIEN ’N VIDEO ONDER)

Die enigste verskil? Hierdie was nié ’n skyfievertoning nie, maar ’n lewendige opvoering wat onlangs deur 20 kinders van die Rainbow Butterfly Kids Day and Night Care by die Real Life Church hier gehou is.

Samantha Kahts, een van die onderwysers by dié sorgsentrum wat in Dan Pienaarville geleë is, het gesê die aand was vol kleur en plesier, maar die ouers het vir die emosie gesorg.

“Ons het ’n pappa gehad wat nie sy trane kon sluk toe sy dogter by die saal ingebring is nie. Hy het nie geweet waarin sy dogter in staat was nie en dit was ‘n spesiale oomblik selfs vir ons om te kon sien.”

Sy het gesê dit was juis die idee agter die konsert, die eerste een wat gehou is om hul eerste bestaansjaar te vier.

“Ons wou die ouers wys dat hulle nie hul kinders se vermoë om dinge te kan doen moet onderskat nie.”

Dié konsert, wat ’n terugblik na die modes, kleur en musiek uit die 1950’s tot en met die 2000’s bevat het, is in Junie verlede jaar ‘gebore’, maar die harde werk en beplanning het eers in Oktober begin.

“Dit was regtig ’n baie skielike besluit. Ons het een dag al die kinders by ons laat oorslaap en daar was gesing en ge’perform’ en dit is waar ons toe besluit het ons gaan konsert hou!” lag Samantha.

En so het die ouers en onderwysers met die konseptualisering wat die toneelrekwisiete, kostuums, musiek en kos vir die gaste insluit, begin.

Randfonteinse sanger, Chantelle Hughes, het haar stem gratis tussendeur die toneelonderbekings verleen.

“Ons is baie dankbaar dat sy die dag saam met ons kon spandeer, sy was net so opgewonde oor die konsert,” het Samantha gesê.

“Maar ons is regtig stomgeslaan oor waarin die kinders in staat is. Daar was geen oepsies op die verhoog nie, inteendeel alles het seepglad verloop.”

Comments

comments