Man wat in Wes-Kaap verdrink “rus nou by Hemelse pa”

0
995
Elma van der Walt en haar twee dogters Elmané en Tianette.

“Hy was my beste vriend, beste man en die beste pappa in die wêreld!”

Met dié woorde kon Elma van der Walt (41) nie die trane keer toe sy gister tydens ‘n openhartige onderhoud aan DigitNews die goeie herringeringe herroep het oor wat sy die meeste van haar man, Tjaart (41), sal mis nie. Haar dogter Elmané (11) het haar getroos.

Tjaart, ‘n sake-ontleder van Kenmare, het op 29 Desember verlede jaar verdrink nadat hy self in die moeilikheid beland het toe hy vir Elmané, uit ‘n sterk sleurstroom gered het. Die fratsongeluk het omstreeks 11:45 by Gleniquastrand in Glentana, duskant George in die Wes-Kaap, plaasgevind.

Elma vertel sy is terug na die vakansiehuis wat sy, haar man en twee kinders saam met vriende vir die vakansie gehuur het.

Tjaart van der Walt (41). Foto: Facebook.
Tjaart van der Walt (41). Foto: Facebook.

“Hy en die kinders was strand toe om te swem toe Elmané deur die stroom meegesleur is. Hy het ingegaan en haar uitgekry, maar kon toe self nie weer uitkom nie.”

Terwyl ‘n 21-jarige man van Pretoria sy eie lewe gewaag het om Tjaart te red het Elmané haar sussie, Tianette (9), gevra om hul ma te gaan roep.

“Elmané het die heeltyd na haar pappa gesoek en na hom uitgeroep. Die 21-jarige het self in die moeilikheid beland.”

Lewensredders en die Nasionale Seereddings-instituut (NSRI) is ontbied. Tjaart se liggaam is na sowat tien minute uit die water getrek toe hy ‘n ent verder gesien is.

“Hy het nog ‘n ligte pols gehad. Sy gesig was blou en sy lippe pers — die paramedici en lewensredders op die toneel het regtig alles in hulle vermoë gedoen om hom te help,” het Elma gesê.

Lewensredders het alles probeer

“Die lewensredders het hard gewerk om hom weer by te bring en het my reeds begin voorberei dat indien my man hierdie voorval sal oorleef hy nie weer dieselfde man sal wees nie, hy was té lank onder die water en het nie genoegsame suustof gekry nie en sal dus moontlik breinskade opdoen,” het Elma verduidelik.

Maar dit was reeds te laat.

“Ek was langs hom en het dadelik geweet toe hy weg is. Die uitdrukking op sy gesig was dié van vrede en geluk en ek vind troos en berusting dat hy nou op ‘n beter plek is – hy is nou by sy Hemelse pappa.”

Sy het gesê sy het daarna vir al die lewensredders ‘n drukkie gegee en hulle self probeer kalmeer.

“Hulle was self geskok en sal moontlik self vir berading moet gaan. Hulle het regtig alles in hul vermoë gedoen.

Sy het gesê sy is ook dankbaar vir die 21-jarige man, wat daarna per ambulans vir behandeling geneem is, wat sy lewe gewaag het.

'n Foto wat van die gesin in gelukkiger tye geneem is.
‘n Foto wat van die gesin in gelukkiger tye geneem is.

“Ons het soveel liefde ervaar van mense wat ons nie eers ken nie. Ek het dit nog nooit voorheen gesien en beleef nie.”

Sy het gesê vriende en familie het van ver af ook hulle ondersteuning aangebied en vir hulle gebid om berusting te vind.

Die gesin het die daaropvolgende dag, 30 Desember terug na Krugersdorp toe teruggekeer.

Die dogters weet wat gebeur het

Elmané het die eerste paar dae min gepraat en selfs nagmerries gehad, maar die familie se teenwoordigheid tuis en die afleiding wat sy kry deur met haar nefies en niggies te speel help, het Elma gesê.

“Die meisies kry nog hulle hartseer oomblikke en sal vir berading gaan.”

Sy het gesê Tjaart, met wie sy 15-jaar getroud was, se lewe het om sy kinders gedraai.

“Hy was ‘n regte dogtertjie-pappa.”

Dit is wat sy die meeste van hom sal mis

“Hy het my weer in myself geglo en druk op my geplaas om dinge te doen wat ek moontlik nooit sou aangepak het as dit nie vir hom was nie.”

Elma het gesê dit is vir haar moeilik om haar beste vriend, die rots wat die gesin aanmekaar gehou het, te beskryf.

“Hy was ‘n man van God wat nooit maklik sonder rede kwaad geword het nie. Hy het eerder ander se probleme en foute op homself gepak en die blaam daarvoor gedra.”

Sy het gesê Tjaart was lief vir houtwerk, fotografie en rekenaars.

Sy begrafnisdiens vind plaas op 9 Januarie, ‘n dag nadat die gesin van vakansie sou terugkeer. Die begrafnisdiens sal om 10:00 vanuit die Nederduitsch Gereformeerde Kerk Krugersdorp-Noord op die hoek van Begin en Premierstraat gehou word.

Comments

comments