KYK: Laat ‘verjaardaggeskenk’ 200km vêr bring groot vreugde vir Thabazimbi-egpaar

0
Dié groot prys wat Lombard Bande met hul onlangse promosie weggegee het, het ’n eienaar. Johan du Toit en sy vrou Elsa het al die pad van Thabazimbi gereis om die trekking te kon bywoon. Regs is Sean Kruger, besturende direkteur by Lombard Bande.
Dié groot prys wat Lombard Bande met hul onlangse promosie weggegee het, het ’n eienaar. Johan du Toit en sy vrou Elsa het al die pad van Thabazimbi gereis om die trekking te kon bywoon. Regs is Sean Kruger, besturende direkteur by Lombard Bande.

LUIPAARDSVLEI — Die vreugde was duidelik sigbaar toe die sleutel in Johan du Toit se hand die deur vir ’n prys ter waarde van R100 000 oopgesluit het.

(SIEN ‘N VIDEO ONDER)

“Ek kan dit nie glo nie!” het hy geskok en opgewonde gesê toe hy 15 ander deelnemers se kans om met dié prys te kon wegstap weer in ’n droom-borrel laat verander het.

Johan en sy vrou Elsa, wat hom omhels het, het 200km ver gereis om vir die kompetisie wat deur Lombard Bande by hul Krugersdorp-tak gehou is, in aanmerking te kon kom.

Die egpaar woon in Thabazimbi, in die Limpopo-provinsie, noord-oos van Gauteng.

“Dit is my verjaardag-geskenk,” het Johan aan mede-deelnemers en organiseerders gesê toe hy verduidelik het dat hy op 1 Desember verlede jaar op sy geboorte-dag, nuwe bande op sy motor laat sit het.

Johan du Toit word hier deur sy vrou Elsa omhels nadat hy die deur met sy wensleutel oopgesluit het.
Johan du Toit word hier deur sy vrou Elsa omhels nadat hy die deur met sy wensleutel oopgesluit het.

“Dit is die eerste keer wat ons iets wen,” het Elsa aan DigitNews verklap en gesê vandag (25 Februarie) is die getal een ’n besonderse getal omdat Johan ook die eerste deelnemer was wat ’n boksie met die moontlike wen-sleutel in op die tafel moes kies.

Maar Johan, vir wie die meevallertjie welkom is omdat hy kon kies of hy met ’n Kia Picanto of met die kontant wil wegstap, gaan die geld gebruik wat vyf maande se medikasie-voorraad gaan kan betaal.

“Ek is amper 70-jaar oud en het groot mediese probleem as gevolg van kanker opgetel en daarom glo ek dat hierdie prys vir my bedoel is aangesien die medisyne wat ek moet koop nagenoeg R20 000 per maand kos,” het hy verduidelik.

Elsa het gesê dié kanker, wat ’n aggressiewe vorm van velkanker is, is besig om na die brein te versprei.

Sean Kruger, besturende direkteur van Lombard Bande het gesê dit is die vierde jaar wat hierdie kompetisie aangebied is en bygevoeg dat dit altyd lekker is om iets vir klante te kan teruggee.

Yolandi Heyns, bemarkings- en kommunikasiebestuurder het gesê meer as 120 000 inskrywings van regoor hul 20 takke is vir hierdie kompetisie ontvang.

“Ongelukkig was daar finaliste wat nie opgedaag het nie en ons wonder of dié klante van ons gedink het dis te goed om waar te wees toe ons hulle kontak en inlig dat hulle ’n kar óf geld kan wen,” het sy geskerts.

Comments

comments