[VIDEO + FOTO’s] Kersvader lê besoek af in Krugersdorp 🎅

0
Kersfeesvader het gesorg vir talle glimlagte op die gesigte van oud en jonk. Foto: Jacobus Myburgh.

Dit was ‘n Kersfeespartytjie om Jesus Christus se geboortedag te vier, maar ook om ‘n glimlag op verskeie behoeftige gesinne se gesigte te kon sit.

(SIEN ‘N VIDEO ONDER)

Van talle lekkernye soos koeke, lekkers en koeldranke, tot ‘n southappie was nie een van die nagenoeg 40 gesinne verlede Saterdag sonder ‘n glimlag nie. Die funksie is by die Lede in Christus-kerk in Quellerie Park gehou.

Springkastele, ballondiertjies, geverfde gesigte en selfs Kersfvader se verskyning het gesorg vir talle opwinding.

Madré Botha van Hope for the Future het aan DigitNews gesê niks is lekkerder as om te sien hoe almal die dag geniet nie.

“Die dankies wat mens ontvang is lekker, maar om die glimlagte op almal se gesigte te sien is die kersie op die koek – solank ons net kan gee en vir vreugde kan sorg is ons op ons gelukkigste.”

Sy het gesê elke persoon: van die kinders tot die volwassenes is eweredig bederf en elkeen het na afloop van die dag ook ‘n Kersgeskenk van onder die boom ontvang wat self deur Kersvader uitgedeel is.

Maar die eintlike boodskap van Kersfees is ook verduidelik.

Madré het gesê dit is die tweede jaar wat Hope for the Future só ‘n Kersfeespartytjie hou.

“Beplanning vir hierdie jaar het reeds in Oktober begin. Danksy die borgskap van Checkers en die goedhartige mense van so ver as Lonehill kon ons sorg dat die mense ‘n heerlike afsluiting kry.”

Yolandi Pestana, stigter van Hope for the Future, het gesê die dag sou nie moontlik kon wees sonder al die gaste se teenwoordigheid nie.

“Baie dankie aan almal wat die dag moontlik gemaak het!”

Hope for the Future sal tot 2 Januarie gesluit wees vir die vakansie en sal van volgende jaar weer volstoom aan hul volgende projek werk: Terug Skool Toe-benodighede.

Comments

comments