Jong vrou (20) se lyk dryf ‘al dae lank’ in Krugersdorpse dam

0
Die lyk van 'n jong vrou (20) is in die Blou Gat Dam gevind. Foto: ER24

Die lyk van ‘n jong vrou wat vermoedelik al vir dae lank dood is, is vandag (20 September) teen die etensuur in die Blou Gat Dam naby Munsieville in Krugersdorp gevind.

Russel Meiring, ‘n woordvoerder van ER24 sê in ‘n persverklaring dat paramedici en lede van die plaaslike polisie na die toneel ontbied is.

Teen hul aankoms het paramedici en polisieduikers die lyk in die dam sien dryf. Polisieduikers het die liggaam uit die water verwyder en dit tot na die oewer van die dam geneem terwyl daar vir ‘n polisiehelikopter gewag is om die liggaam te verwyder met die paramedici wat gewillig was om bystand te verleen.

Paramedici het toe vasgestel dat die vrou, glo in haar twintigerjare, toe reeds vir ‘n wyle al dood is. Sy is op die toneel doodverklaar.

Die omstandighede rondom haar dood is nog ‘n raaisel. Polisie is tans besig met ‘n nadoodse-ondersoek om haar presiese dood vas te stel.

Comments

comments