•MULTIMEDIA• Jong hokkie-doelwagter droom van Ierlandse toer

0
3276
Mia Buytendag (15) met van die medaljes wat sy al vir haar hokkie verower het.
Mia Buytendag (15) met van die medaljes wat sy al vir haar hokkie verower het.
‘N WENNER: Mia Buytendag (15) met van die medaljes wat sy al vir haar hokkie verower het.

Mia Buytendag (15) van Hoërskool Noordheuwel droom om haar skool en land oorsee te verteenwoordig, maar daar is net een faktor wat haar van haar droom weerhou – geld.

Dié kranige hokkiedoelwagter het onlangs aan die 2016 Garsfontein onder 15 hokkie week by Hoërskool Garsfontein in Pretoria deelgeneem waar ‘n paneel professionele keurders spelers op grond van hulle prestasie tydens hierdie toernooi gekies het om later vanjaar in ‘n internasionale kompetisie deel te neem.

Twee spanne van 16 spelers en twee afrigters gaan in September vir nege dae na Ierland toer.

(SIEN ‘N VIDEO ONDER)

Van ‘n jong ouderdom het Mia besluit om die netbalbal met dié van ‘n hokkiebal te vervang, al het haar ma, Jeanette Fick, eintlik gehoop dat haar dogter haar liefde vir netbal sou voortsit.

“Ek is baie opgewonde oor die geleentheid! Ek was nog nooit in die buiteland nie en reken dat dit ‘n baie goeie leerskool vir my hokkieloopbaan kan wees,” het Mia opgewonde gesê.

Mia, wat tans op ‘n volle hokkie borgskap is, het gesê sy het perongeluk op hokkie verlief geraak.

“Ek was in Graad 4 toe my onderwyser by Laerskool Krugersdorp-Noord my gevra het om as doelwagter in te staan, en mens kan nou sê, die res is geskiedenis.”

Sy is op 12-jarige ouderdom gekies om haar plek as Gauteng Hokkie se doelwagter vir die onder 13-span in te neem.

Nou hoop sy om haarself in dié sport te verbeter deur na Ierland te toer, maar die koste vir hierdie toer beloop R31 090 per persoon.

Jeanette het gesê sy is baie trots op haar dogter se prestasie en hoop dat die gemeenskap hul harte en beursies vir haar dogter sal oopmaak.

Ouma Linda van Eeden se hande en haar kombuis is gereed om te bak en te brou as deel van ‘n projek waar hulle self probeer om geld in te samel.

Vir meer inligting oor hoe om Mia te help, kontak haar ma Jeanette by 072 653 3702 of per epos by jeanettefick3@gmail.com.

Sien dié boekie oor Mia se lewe en haar droom om haar hokkie loopbaan in Ierland te bevorder.

Comments

comments