Help ‘n plaaslike nooi om soos ‘n ster te skitter

0
1096

SKITTER: Sharday van den Berg, Yolandi Coetzee en Madré Botha help graag om plaaslike meisies pragtig te laat lyk.

Toe Klaasvakie se sand Madré Botha se oë een middernag nog nie bereik het nie, het sy in die bed gelê waar ‘n idee om plaaslike meisies soos prinsesse te laat lyk, vorm begin aan neem het.

“Ek het toe net daar regop gesit en gedink watter verskil dit kan maak, want ek het al soveel rokke gemaak wat vir modelwerk gebruik is dat dit baie selfsugtig sou wees om dit in ‘n kas te laat stof opgaar.”

En dit is hoe die projek, Princess for a day, gebore is.

IMG_5007 (Medium)“Maar meisies kort baie meer as net ‘n glinsterende rok. Daar is dan nog die haarstilering, naels en grimering wat ook gedoen moet word — ons meisies moet spesiaal en gemaklik in haar vel voel,” het Madré bygevoeg.

Vriendin Sharday van den Berg, met haar kleurvolle towerkissie vol grimering en naellak is vir hierdie taak genader.

Al is die fokus merendeels op jong meisies wat vir die matriekafskeid regmaak, word meisies en jong vroue ook in ‘n prinses vir verjaardag partytjies, troues en ooievaarspartytjies omtower .

“Dan spring ons almal maar in en help graag,” sê Sharday.

Met nagenoeg 200 rokke, 70 pare skoene, ‘n verskeidenheid van bybehore beloof dié span dat geen meisie ongelukkig op een van die belangrikste dae van hul lewe sal wees nie.

IMG_5010 (Medium)“Ons sal elkeen pragtig maak en dit maak nie saak wat die meisies se grootte is nie, ons sal selfs aan die rokke werk as dit nodig is, al wat saak maak is dat hulle goed voel,” het Madré opgewonde gesê.

“Ons gaan nie net hier stop nie, ons projek gaan nog groter word!”

Seuns en mans word reeds gehelp om hulle prinsesse in ‘n Tuxedo-baadjie te verwelkom.

“Nou hoop ons net dat plaaslike besighede ons in hierdie inisiatief sal bystaan,” het Madré gesê.

Vir meer inligting of om betrokke te raak, kontak Madré by 078 676 9760, Sharday by 072 519 5687 of vir Yolandi Pestana by 071 530 4033.

* Yolandi is die stigter van Hope for the Future, ‘n nie-registreerde organisasie wat net ‘n verskil in mense se lewe wil maak.

Comments

comments