Gewelddadige Krugersdorpse huisrowers ná vier jaar uiteindelik gevonnis

0
Foto: Pixabay

Twee broers wat Krugersdorp se inwoners meer as sewe jaar gelede wreedaardig geteister het, het Dinsdag hulle eerste nag agter tralies deurgebring.

Johannes Nkuna (39) en Patrick Nkuna (25), twee onwettige immigrante van Mosambiek, is Dinsdag (6 Februarie) in die Krugersdorp Streekhof deur die Landros Keith Page onderskeidelik effektief vir 82 en 63 jaar op 24 aanklagte waaronder huisinbraak en huisroof onder verswarende omstandighede, seksuele aanranding, die onwettige besit van ‘n vuurwapen asook ammunisie skuldig bevind.

Die Nkuna-broers, wat vir hulle wreedheid bekendheid verwerf het wanneer daar by huise ingebreek is, kon eers ná meer as vier jaar gevonnis word aangesien die hof vir meer inligting gewag het omdat die broers heeltyd tydens hulle hofverhoor onskuldig gepleit het.

Hulle is reeds in Desember 2011 in hegtenis geneem, maar hul hofverhoor het in Oktober 2013 begin.

Johannes en Patrick het dikwels by huise in die Krugersdorp-omgewing, onder meer Noordheuwel, Monument, Chancliffe en Rand-en-Dal ingebreek. Baie van die huise was in veiligheidskomplekse.

Altesaam 72 getuies het hul getuienis tydens vorige hofdatums gelewer waar die hof van die broers se wreedaardige dade met hulle slagoffers moes aanhoor. Die staatsaanklaer Micky Thesner het teen die Suid-Afrikaanse Grondwet uitgevaar toe sy gesê het dat die Nkuna-broers presies geweet het wat hulle doen.

“Hulle het nie net die slagoffers deur ‘n helse trauma gesit nie, maar het hulle ook ‘n wonderlike geleentheid gegee om dit in die getuiebank te kom herleef.”

Sy het gesê dat die Grondwet meer regte aan misdadigers gee, maar dat Dinsdag die finale dag was om die gereg in die gesig te staar.

“Albei die beskuldigdes het net berou oor hulle misdade omdat hulle uiteindelik gevang is. Vir jare lank het hulle die Krugersdorp-gemeenskap geteister en ‘n skrikbewind van stapel gestuur.”

Thesner het bygevoeg dat die misdade ‘n mens met ‘n koue rilling laat aangesien die beskuldigdes hulle slagoffers met geweld gedreig het. Hierdie geweld sluit onder meer in waar slagoffers met ‘n strykyster verbrand is, ‘n gordel wat om ‘n kind se nek geplaas is om die ouers te dwing om die kluis oop te sluit en slagoffers wat aan hulle hande en voete vasgebind is.

Die Afrikaanse dagblad, Beeld, het destyds berig dat Patrick met ‘n bier in sy een hand langs ‘n man van Chancliffe se bed gestaan het en met sy ander hand op ‘n Bybel wat op die bedkassie gelê het geslaan toe hy vir John Henry du Toit gevra het of hy die Bybel ken.

Patrick het hom toe gevra wat in die Bybel staan toe hy sy balaklawa afgehaal het en toe self geantwoord dat dit verwys dat ‘n mens jou naaste moet liefhê soos jy jouself liefhet.

“Moet ons nie haat nie. Ons doen dit vir die geld.”

Johan Henning, ‘n inwoner van Noordheuwel, het gesê hy kan nou rustiger slaap. Hy en sy huismaat, Peet Jordaan is op 3 Februarie 2011 oorval en aangehou. Die Nkuna-broers het met ‘n bakkie volgelaai met elektronika gevlug. Hy was die enigste van die getuies wat die hofuitspraak bygewoon het.

“Ek volg dié hofsaak al vandat dit bekend geword het hulle is inhegtenis geneem. Ek is verlig dat hulle gevonnis is.”

Die Nkuna-broers se ouer broer, Eric Nkuna, is reeds in 2012 skuldig bevind op vier aanklagte van huisroof met verswarende omstandighede, asook moord.

Hy is 45 jaar tronkstraf opgelê.

Bykomende bron: Beeld

Comments

comments