Krugersdorp eindomsagent ook nou vermis na laatmiddag afspraak

0
17441
hanle lategan

Krugersdorpers het gisteraand nie ‘n oog toegemaak nie nadat nuus versprei het dat Hanlé Lategan, ‘n eiendomsagent van Remax Masters gistermiddag onderweg na ‘n kliënt vermis geraak het.

Die vermoede was dat sy nes Kevin Mc Alpine en Anthony Scofield (64), albei makelaars, wat vandeesmaand vermoor en in die kattebak van hulle motors toegesluit is.

LEES MEER:  Man found bludgeoned to death in car-boot

Lategan se voertuig, ‘n silwer Hyundai i10,  is laasnag deur lede van die Gemeenskapspolisiëringsforum (GPF) by die Netcare Krugersdorp Privaat Hospitaal gevind maar sy was nie daarbinne nie.

Intussen het die polisie sowel as lede van die Gemeenskapspolisiëringsforum na middernag by die OTM’e gewag om te sien of enige gelde ontrek sou word aangesien twee persone ‘n ongenoemde bedrag geld naby die Delta Spar in Krugersdorp-Wes wou onttrek. Die transaksie was onsuksesvol.

Polisie is na bewering in besit van beeldmateriaal waar twee mense moontlik daarna in die parkeringarea voor dié winkel in Rustenburgweg stilhou en uitklim.

André Lategan, haar man het gesê hy het besef iets is nie pluis nie aangesien dit sy bankkaart is en die hoeveelheid geld wat onttrek wou word sy daaglikse limiet oorskry het.

Hy het gesê sy vrou was gistermiddag om 17:20 van ‘n kliënt in Rangeview onderweg na haar 18:00 afspraak in Rant-en-Dal, waar sy nooit opgedaag het nie.

“Sy het voor dit nog met ‘n agent gesels om te verduidelik dat sy laat gaan wees aangesien die kliënte vir wie sy die eiendom wil gaan wys eers hulle kind ook wou gaan optel.”

Joni Mostert, die kliënt wat sy moes gaan sien het, het gesê toe sy na ‘n tydperk nie gearriveer het nie, het sy bekommerd begin raak.

“Ons het haar selfoon daarna ‘n paar keer probeer bel, maar dit was afgesit.”

Daarna is haar man gekontak.

Twee persone is gesien waar hulle by die hospitaal se parkeringsarea uitklim en om ‘n hoek verdwyn.

“Die een persoon het gelyk soos sy, want dit was haar jas, hulle is na ‘n blindekol waar die kamera hulle nie kon opvang nie,” het hy gesê.

‘n Vermistepersoon-dossier is by die Krugersdorp Polisiestasie oopgemaak. Enigiemand met meer inligting kan Kol. Verna van Staden by 082 498 9484 kontak.

Comments

comments