Eienaar van bos verlore sleutels soos blits opgespoor!

0
134
’n Gesig van vreugde! Jake Hoon (72) is baie bly dat hy hierdie bos sleutels van hom teruggevind het!

KRUGERSDORP-WES — Die eienaar van ‘n verlore bos sleutels is binne ure gevind!

Dit behoort toe aan niemand anders as die DA-raadslid vir Wyk 28, Jacques Hoon se pa Jake Hoon (72) wat in Rangeview woon nie.

“Ek is so bly! Toe ons (hy en sy seun Donnovan) gister by die huis kom en besef dat die sleutels skoonveld is kon ons niks anders doen as om te begin huil nie,” het Jake gesê oor die nege sleutels wat hom meer as R1 000 uit die sak sou jaag om te vervang.

“Ek en my seun was by die Krugersdorp-meule om sake te doen en dit moes moontlik uit sy sak geval het toe ons weer in die motor geklim het.”

Toe Jacobus Myburgh, DigitNews-redakteur gistermiddag op dieselfde spasie langs DigitNews se kantore stilhou en op sleutels in die parkeer-area in Naudélaan afkom het hy gewonder hoe op dees aarde ’n mens die eienaar daarvan gaan opspoor.

Maar eers was daar stories wat geskryf en gepubliseer moes word voordat daar verder aan ‘n plan gewerk kon word.

“Nadat dit gedoen is, het ek bloot my kamera gegryp en die sleutels wat toe op my lessenaar lê afgeneem en dit op die sosiale media platform Facebook geplaas waarna ek die inwoners van Krugersdorp gevra het om dit te deel,” het Myburgh gesê.

Nadat dit toe reeds verskeie keer gedeel is het Jake se vrou, Caroline verbaas na haar man geroep en gesê: “hier is jou sleutels!” het Jake vertel.

“Dit is weerens ’n bewys dat digitale mediums baie goed werk, want sou mens só ’n bos sleutels in die tydperk voor die internet opspoor sou dit reeds te laat gewees het al word die eienaar daarvan opgespoor. Teen daardie tyd is die slotte reeds vervang,” het Myburgh gesê.

Comments

comments